Handsakke inspireer eerste motiverende musiekblyspel

Helpende Hand se Pretoria-streek nooi vroue om hul bollas los te maak, ‘n handsak met bederfgoed vir vroue in nood te pak, en aan te sluit vir die debuut van die land se eerste motiverende musiekblyspel.

Die toneelstuk Hier’s my Hand-“sak” word op 16 September by die AfriForum-teater ten bate van Solidariteit Helpende Hand bekendgestel.

Dit handel oor ‘n vrou se lewe – in haar handsak, met haar handsak, vir haar handsak. Dit is ‘n prettige, insiggewende, motiverende verhaal. Dit is geskryf deur die internasionaal bekroonde voorkomsspesialis, Sandra Taljaard van Style Challenge International, en deur die tenoor Coert Grobbelaar getoonset. Jannes Erasmus, regisseur van onder andere “Die Kaplyn”, is die kreatiewe regisseur.

“Elke vrou se handsak gee ‘n mens diepgaande insig in haar lewe, al besef sy dit nie. Miljoene vroue spandeer jaarliks duisende rande aan handsakke waarvan hulle hou, al land dit net weer op ‘n rak en stof opgaar. Só ‘n vrou moet dit aanwend, nóg beter vir ‘n goeie doel,” sê Taljaard.

“Ek het vir Coert gesê dat ek ‘n behoefte het om ‘n motiverende musiekblyspel te skryf, waar ek tussen in praat en hy dan die bypassende musiek doen. Die eindproduk is ‘n lekker prettige ding. Ek praat nie net mode nie, maar dit gaan gepaard met humor en motivering. Selfs Jannes sê hy het pret gehad met die produksie en iets van vroue geleer,” sê sy.

Volgens Mariana Kriel, streekorganiseerder van Helpende Hand Pretoria-streek, is Helpende Hand opgewonde om met dié kunstenaars hande te vat.

“Helpende Hand se roeping is gemeenskapsontwikkeling. Ons wil die gemeenskap waarin ons leef ontwikkel sodat ons voorspoed kan verseker,” sê Kriel.

“Helpende Hand ontvang geen skenking van die staat nie en is dus afhanklik van die publiek en persone wat maandelikse bydraes gee. Die fondse wat by hierdie geleentheid ingesamel word, sal spesifiek geoormerk word vir Helpende Hand Noord-Gauteng se studiefonds om dogters deur opleiding te bemagtig,” sê sy.

Kriel sê ook Helpende Hand wil vroue aanmoedig om ou handsakke, gevul met iets spesiaals vir vroue in nood, op die dag saam te bring. “Ons wil dit egter nie net tot die dag beperk nie. Vroue kan ook bederfhandsakke by hul naaste Helpende Hand Ons Winkel in Pretoria of afgee. Van die handsakke sal tydens die vertoning aan Corlea Botha oorhandig word, spesiaal vir haar Genadesakke-projek.”

Die debuut van die musiekblyspel gaan gepaard met ‘n netwerkgeleentheid.

“Daar gaan genoeg tyd gegee word vir vroue om met mekaar te netwerk en nuwe vriendskappe te sluit. Met ‘n minimum van 150 sakevroue wat die geleentheid gaan bywoon, is hierdie die ideale geleentheid vir ondernemings om as gesogte borge op te tree. Dit is ook die ideale dag vir besighede om ander sakevroue te bederf en hulle die geleentheid te bied om deel te wees van die dag,” sê Kriel.

Kaartjies wat die etes en wynproe insluit, is teen R500 beskikbaar en kan direk by [email protected] bespreek word. Kaartjies vir die galery , wat nie die etes insluit nie, kos R250 en kan by www.afriforumteater.co.za aangekoop word.

Vir meer inligting besoek www.pretoriahand.co.za of stuur epos aan [email protected].

//Einde

Byskrif: Sandra Taljaard van Style Challenge International saam met die tenoor Coert Grobler.

Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand:

Mariana Kriel

Streekorganiseerder: Helpende Hand Pretoria-streek

Sel: 084 9525837

E-pos: [email protected]